Psalms 119:1-176 AFR1953 - Bible AI

1Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.

2Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;

3ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.

4U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.

5Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!

6Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.

7Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.

8Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.

9Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.

10Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.

11Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

12Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!

13Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.

14Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.

15Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.

16Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.

17Gimel. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.

18Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.

19Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.

20My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.

21U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.

22Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.

23Al sit vorste en beraadslaag teen my- u kneg oordink u insettinge.

24Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.

25Dalet. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.

26My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!

27Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.

28My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.

29Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.

30Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.

31Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie!

32Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.

33He. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.

34Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.

35Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae.

36Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.

37Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.

38Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.

39Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.

40Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.

41Wau. En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte,

42sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.

43En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.

44Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,

45en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.

46Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.

47En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,

48en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.

49Sajin. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.

50Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.

51Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.

52Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.

53Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.

54U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap.

55HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou.

56Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het.

57Get. Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar.

58Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte.

59Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.

60Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.

61Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.

62Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.

63Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.

64HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.

65Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord.

66Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.

67Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.

68U is goed en doen goed; leer my u insettinge.

69Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.

70Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.

71Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.

72Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

73Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.

74Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.

75Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.

76Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.

77Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.

78Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.

79Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.

80Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.

81Kaf. My siel smag na u heil; op u woord wag ek.

82My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?

83Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie.

84Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?

85Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie.

86Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my!

87Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie.

88Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou.

89Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.

90U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.

91Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.

92As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.

93Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.

94Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele.

95Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse.

96Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.

97Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.

98U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.

99Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.

100Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.

101Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.

102Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer.

103Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.

104Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.

105Noen. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.

106Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.

107Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord!

108Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge.

109My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.

110Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.

111Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.

112Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.

113Samek. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.

114U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.

115Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!

116Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.

117Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.

118U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.

119U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.

120My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.

121Ajin. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.

122Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.

123My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.

124Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.

125Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.

126Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.

127Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.

128Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.

129Pe. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.

130Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.

131Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.

132Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.

133Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.

134Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.

135Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.

136My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.

137Sade. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge.

138In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.

139My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.

140U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.

141Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.

142U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.

143Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.

144U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.

145Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar.

146Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.

147Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.

148My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.

149Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge.

150Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is.

151U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid.

152Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.

153Resj. Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie.

154Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte.

155Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie.

156HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.

157My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie.

158Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie.

159Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid.

160Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

161Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.

162Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind.

163Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief.

164Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.

165Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.

166o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.

167My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.

168Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.

169Tau. o HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord.

170Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte.

171My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge.

172My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid.

173Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.

174o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.

175Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help.

176Ek het gedwaal soos 'n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.

e>