Psalms 12:1-9 AFR1953 - Bible AI

1Vir die musiekleier; met basstem. 'n Psalm van Dawid.

2Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders.

3Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.

4Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,

5hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?

6Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag.

7Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.

8U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.

9Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders.

1933, 1953 Bybelgenootskap van Suid Afrika.
/div>