Psalms 56:1-14 AFR1953 - Bible AI

1Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Duif van die ver Terebinte." Van Dawid. 'n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat.

2Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag.

3My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed.

4Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.

5Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?

6Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen.

7Hulle val aan, lê en loer- hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het.

8Ondanks hul ongeregtigheid- sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God!

9U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?

10Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.

11Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys.

12Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan 'n mens my doen?

13Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal;

14want U het my siel gered van die dood- ja, my voete van struikeling- om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.